Uncategorized

RIELDANS HOU PRINCE ALBERT SE KULTUUR AAN DIE BEWEEG 

By: Shamila Pieterse | Prince Albert – Western Cape

Onder die bloekomboom in Prince Albert het musiek en rieldans oor geslagte heen deel geword van een familie se vieringe. Vandag hou die Prince Albert Vastrappers die tradisie lewendig en gee hulle dit aan die volgende geslagte oor.

Die rieldans is ‘n tradisionele dans wat binne gemeenskappe gebruik word tydens vieringe en ander

belangrike geleenthede. Vir die Prince Albert Vastrappers is dit egter meer as net ‘n dans, dit is deel van hul identiteit en herkoms.

Die groep staan onder leiding van Sara van Rooi en haar moeder, Dora Sass, en bestaan al vir 11 jaar. Volgens Sara het die groep ontstaan uit ‘n familietradisie wat oor geslagte heen voortgesit is.

Sy vertel dat haar oupa kitaar gespeel het terwyl die grootmense onder die bloekomboom riel gedans het.

“Die dans word by troues en selfs wanneer kinders gebore word in ons familie gedans. Dan dans ons om ‘n vuur by ‘n gellyblik,” sê Sara.

Volgens haar vertel die bewegings van die rieldans ook hul eie stories. Een van die bewegings wys hoe ‘n man sy hoed afgooi en ‘n vrou dit optel en op sy kop sit.

“Dit is ‘n outomatiese ja antwoord dat sy hom wil hê,” verduidelik sy.

Musiek is ook ‘n belangrike deel van die groep se optredes. Sara skryf self die liedjies waarop die groep dans en gebruik gebeure uit haar gemeenskap en omgewing as inspirasie. “Die tema van die liedjies kom van wat alles in ons dorp en area gebeur,” sê sy.

Die Prince Albert Vastrappers het ook oor die jare verskeie prestasies behaal. In 2018 is die groep deur die ATKV as Suid-Afrikaanse kampioene gekroon. Hulle het ook buite Prince Albert opgetree, onder meer in Namakwaland by die Namafees en in Namibië.

Die tradisionele voorkoms van die dansers word ook plaaslik behou. Sara se moeder, Dora Sass, maak die dansers se klere met die hand.

Ten spyte van hul liefde vir die rieldans, ervaar die groep steeds uitdagings. Volgens Sara is vervoer een van die grootste probleme, terwyl geskikte skoene wat tydens die dans op hul voete bly, ook ‘n uitdaging is.

Tog hou die Prince Albert Vastrappers aan om die tradisie voort te sit.

Vir die groep is die rieldans nie bloot ‘n optrede nie. Dit is ‘n deel van hul familiegeskiedenis, hul gemeenskap en ‘n kultuur wat hulle glo deur die volgende geslagte lewendig moet bly.