EducationLocalNews

Prince Albert Skoolkoor Maak Naam

01 September 2026 | Intern Reporter – Shamila Pieterse | Prince Albert

“Die werȇld skuld ons niks nie, maar jy skuld jouself alles.” Dit is die boodskap van meneer May, koordirigent van Hoërskool Zwartberg skoolkoor in Prince Albert, aan elke jongmens. 

Prince Albert is ʼn klein dorpie aan die voet van die Swartbergpas, maar die leerders van Hoërskool Zwartberg wys dat groot talent ook uit klein gemeenskappe kan kom. 

Die skoolkoor het vanjaar die geleentheid gekry om hul talent buite Prince Albert ten toon te stel toe hulle in George opgetree het. Die skoolkoor het saam met die jazzorkes van Outeniqua Hoërskool opgetree. 

Volgens mnr. May het die geleentheid ontstaan uit ‘n tweejaar-lange verhouding tussen Outeniqua Hoërskool se jazzorkes en die PACT-sentrum in Prince Albert. 

Die koor se optredes is egter nie beperk tot George nie. In 2025 en vanjaar het die leerders ook die geleentheid gehad om by die opening van die Journey to Jazz-fees in Prince Albert op te tree. Hulle het ook by die afsluiting van The People’s Concert opgetree en hul talent by die Karoo Jazz Project ten toon gestel. 

Agter hierdie optredes lê ure se oefening en opoffering. Die leerders gebruik hul pouses tydens die skooldag, asook van hul Junie-vakansie, om te oefen en hul stemme te ontwikkel. 

Vir mnr. May gaan die koor egter oor meer as net musiek en optredes. Sy visie is om jongmense te help om hul selfvertroue te ontdek en te besef dat hul omstandighede nie hul toekoms hoef te bepaal nie. 

“Jou agtergrond of familie bepaal nie wie jy is nie,” sê hy. 

Vir hierdie jong sangers is die verhoog dus meer as net ’n plek om op te tree. Dit bied aan hulle ’n geleentheid om hulself uit te druk, hul selfvertroue te bou en te wys wat jong talent uit Prince Albert kan vermag.